|
Sewe jaar gelede het ons besluit om ons beesboerdery
van Komatipoort in Mpumalanga na Vrede in die
Oos-Vrystaat te verskuif. Op daardie stadium het ons
met suiwer Afrikaners geboer. Hulle was uiters geskik
om die hitte en parasiete van daardie omgewing te
trotseer, maar ons het baie vinnig besef dat ander
spelreëls in Vrede geld.
Daar is besluit om voortaan met Bonsmaras te boer.
Omdat ons stoetboere was en ‘n groot hoeveelheid bulle
self nodig gehad het, was dit baie maklik om met stoet
Bonsmaras te begin boer.
Ons het besluit dat daar te min tyd was om ’n stoet op
te bou uit vroulike diere wat op produksieveilings
aangebied was. Dit was nie logies om met B-span diere
op gelyke voet te kompeteer met ander stoetboere se
A-span diere nie.
Daar was semen van die beste bulle in die land
beskikbaar maar op gemiddelde koeie sou jy maar
gemiddelde bulle teel. Dus het ons besluit om te
fokus op die beste bewese vroulike diere wat
beskikbaar was.
Met die Fortress (BHE) uitverkoping het ons al die
bewese koeie geidentifiseer en was gelukkig om almal
behalwe drie te koop. Met die Benchmark (HJB)
verkoping is dieselfde seleksie strategie gevolg. Al
Wesson van Rensburg (RCO) se koeie wat vir sy
Brasiliaanse embrio program gebruik was is gekoop.
Die top presteerders uit Bokkie van der Merwe (EI) se
stoet is ook bekom. Vyftien ou bewese koeie van
Lawrence Ralfe (LAR) asook al Arthur de Villiers (AG)
se 1993,’94 en ’95 koeie is gekoop. Top presteerders
van Kit Thompson (FCT), Frans van den Berg (VV) en al
Neil Rissik (RGR) se stoetbulle op daardie tyd se
moeders is aangekoop.
Hierdie span bewese bulmoeders vorm die grondslag van
ons stoet met toegang tot van die beste bulle in die
land se saad. K.I. en die spoel van embrios is die
roete wat ons gekies het om in die kortste moontlike
tyd tot op die hoogste vlak te kon vorder.
Ons Teelfilosofie
Ons kan nie krediet kry vir hierdie top koeie se
genetiese potensiaal nie, en salueer die telers wat
hulle geteel het, maar ons kan wel krediet vra vir dit
wat ons daarmee vermag het. Ons is besig om bewese
kombinasies te herhaal bv. Volbroers van AG03-256 en
LAR00-084 ens. sowel as ‘n klomp nuwe dapper
kombinasies van gene wat nie voorheen in die Bonsmara
ras beskikbaar was nie.
As bona fide beesboere poog ons om geharde mediumraam
diere te teel wat funksioneel produseer en optimaal
presteer in enige deel van Suidelike Afrika.
Ons nooi u om te kom kuier en self te besluit. |